In Matteus 11:28-30 sê Jesus: “Kom na My toe,
almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle
rus gee. Neem my juk op julle en leer van My,
want Ek is sagmoedig en nederig van hart,
en julle sal rus kry vir julle gemoed.
My juk is sag en my las is lig.”
Is jou skouers al krom van al die krisisse in jou lewe?
Is die lewenspad vir jou te steil? Jy hoef nie die bult
self of alleen uit te sukkel nie. Gee jou hele lewe vir
die Here. Ook daardie laste wat jou wil doodwurg.
Ruil jou swaar las in vir die Here se ligte las. Te goed
om waar te wees? Wel, Jesus wil self ook nog iets op
jou skouers sit! Maar dit is nie nog ‘n las nie!
Hy wil jou las afhaal en sy hemelse vrede en sy rus
op jou plaas. Wat ‘n ruiltransaksie!
Jesus se vrede in ruil vir jou probleme. Jesus wil jou
juk neem in ruil vir sy juk. Sy juk is sag en sy las is lig.
Jy moet dit regtig glo! Doen dan die ruiltransaksie!
Doen dit en skuil by die Een wat sterker is!
In Matteus 12:28 vertel Jesus meer van sy krag en hoe
naby die koninkryk aan ons kom. Hou op om op jou eie
voort te leef en voort te sukkel. Hoor wat sê Jesus in
vers 28: “Aangesien Ek deur die Gees van God die duiwels
uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle
gekom.”
Om in die teenwoordigheid van Jesus se krag te wees
maak ons sterk. Dit laat swak mense veilig voel.
As jy op hierdie dag en oomblik iemand soek in wie se
krag jy kan leef, dan is dit die krag van die Here,
ook oor die Bose. Niemand is sterker as die Here nie!
Praat van krag wat vir jou wil dra!
Praat van oorwinnings krag!
Die Here wil en sal jou lewe bewaar. Kom na Hom toe.
Hy sal jou rus gee. Sy juk is sag en sy las is lig,
omdat Hy ook dit dra!
Ernest