“’n Saaier het eendag gaan saai” – Matteus 13:3.
Goeie saad is ‘n snaakse ding. Dit groei gewoonlik
op enige plek. Die probleem is egter dat daar ander
dinge is wat die saad laat faal. Dinge soos dorings
en onkruid. Of slegte grond. Die saad kom gewoonlik op...
en dan kom die probleme. Te veel onkruid. Te swak grond.
Saad het goeie grond nodig om ‘n oes te lewer.

Jesus vertel in ‘n gelykenis dat die Goeie Nuus van die
evangelie ook soos saad is. In die gelykenis van die saaier
vertel Hy van vier soorte grond.
‘n Deel van die saad val in die pad. Harde grond en dit kan
ook vertrap word. En hier kom die voëls en pik dit op.
‘n Ander deel van die saad val op klipbanke. Dit kom gou
op in die dun grond op die klipbanke, en dan verskroei die
son dit omdat dit nie sterk wortels en diep grond het nie.
‘n Ander deel val tussen onkruid. Die onkruid verdring die
saad en laat dit verstik.
Die laaste deel van die saad het in goeie grond geval.
Dit lewer groot oeste!

Net die laaste stuk lewer oes. Hoeveel is dit van al die saad
wat gesaai is? Moontlik net die laaste kwart? 25%.
Die ander ongeveer 75% saad raak verlore. Seker die helfte
van al die hoorders van die Goeie Nuus bêre die boodskap
vir ‘n tydjie in hulle hart, en dan gaan dit verlore.
Dit is goeie saad, maar slegte grond.
Die eerste kwart van die saad was sommer al vroeg verlore,
verwerp!
Dit beteken dat ongeveer 75% van mense wat die evangelie
hoor, sal dit nie aanvaar nie! Die laaste 25% lewer hemelse
opbrengs!

Watter soort grond is jy?
Die evangelie gaan uiteindelik óf dood in jou lewe,
of dit groei oordadig tot eer van God en lewer ‘n groot oes!
Watter soort grond is jy regtig?

Ernest