Jesus en sy dissipels loop in die strate van Tirus en Sidon.
Onverwags kom ‘n Kanaänitiese vrou voor Hom, en skree aanhoudend.
“Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid!
My dogter is in die mag van ‘n duiwel, en dit gaan sleg.”
Later roep sy weer:
“Here, help my!”
Wanneer Jesus sê jy neem nie die kinders se brood
en gee dit vir die hondjies nie,
dan antwoord die vrou:
“Dit is waar, Here, maar die hondjies eet darem
van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”
In Matteus 15:28 antwoord die Here haar dan :
“Mevrou, jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”
Van daardie oomblik af was die dogter gesond.
Hierdie vrou is selfs bereid om van die krummels te leef.
Die krummels van God se genade.
Wat was, menslik gesproke, die kans dat sy gehelp sou word?
Niks.
Sy is eerstens ‘n vrou.
Destyds iemand met geen regte nie.
Verder is sy ‘n heiden.
‘n Verworpe Kanaäniet.
Minder as niks in die oë van die Jode.
Die dissipels vra selfs ook nog dat Jesus haar moet wegstuur.
Sy hou aan om irriterend agter hulle te skree.
Alles tel teen haar.
Maar sy ontvang nie krummels nie.
Die Here se genade breek teenoor haar oop,
soos ‘n damwal wat breek!
Hy het vir almal gekom.
Daar is geen onderskeid nie.
God se genade strek oor almal en alles.
Ons trek sirkels, om uit te sluit.
Hang etikette om nekke, en noem name.
Maar God se liefde trek sirkels wat insluit, almal insluit.
Ons dink ons weet wie is in en wie is uit.
God se genade is vir almal en alles!
Ernest