Hoe moeilik kan die uitverkiesing nou wees?
Ons maak dit baie ingewikkeld.
Efesiërs 1:4 sê: “So het Hy, nog voordat die
wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies
om heilig en onberispelik voor Hom te wees.”

Hierdie leerstuk krap mense se koppe deurmekaar.
Dit maak mense bang en onrustig, want die
uitverkiesing vertel dat God volledig inisiatief
in ons redding neem!
Mense wil graag self iets doen, iets verdien.
Die uitverkiesing sê egter dat God die eerste
beslissende tree gee in ons redding, en alles
daarna óók doen! Dit sê dat ons enigste “bydrae”
tot ons verlossing ons vrag sonde is!
Met ander woorde: Niks!
Dit het God sy Seun se dood gekos.
Ons het geen teenprestasie nie! Ons kan niks
aan God bied in terme van ons redding nie.

Om die uitverkiesing te verstaan moet ons een
belangrike ding onthou: Paulus praat altyd met
mense wat klaar glo, as hy oor die uitverkiesing skryf.
Hulle het met ander woorde reeds tot bekering gekom.
Nou verduidelik hy slegs maar dat hulle nie kan spog
oor hulle eie geloof nie. Dit is alles God se genade en
God se werk. Dit is deur en deur aan God te danke
dat hulle glo.
Met ander woorde: selfs agter mense se wilsbesluit
om te glo, en agter hulle keuse om Jesus te volg,
staan God! Die geloof om dit te doen is ‘n gawe van
die Heilige Gees en kom van God af! Alles is genade!

Die uitverkiesing wil nie mense bang maak dat hulle
nie gered is nie, of nie gered sal word as hulle nie
uitverkies is nie. Die uitverkiesing sê maar net vir
mense wat reeds glo dat hulle geloof net aan God
te danke is. Hy het in die ewigheid reeds geweet wie
tot geloof sou kom. Dit is hulle wat uitverkies is.
Die wat in die Seun van God glo!
Daarom kan ons nou sy grootheid prys.
Wanneer ons met die uitverkiesing worstel is dit
omdat ons by óns begin. Alles begin by God!

Ernest