Uitverkiesing en geloof loop hand aan hand.
Paulus se loflied in Efesiërs 1 wil ons nie bangmaak nie.
Geloof is nie om terug te sit en te sê ons wag tot God
besluit om ons te kies nie. Ons kan tog niks daaraan
doen nie...
Dit wil ook nie sê dat ons eendag die vinger na God
kan wys as ons nie geglo het nie, en Hom beskuldig
dat Hy ons nooit uitgekies het nie.
Efesiërs 1:11 sê: “Deur Christus het ons deel geword
van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het.”

Die uitverkiesing vra geloof. So beskryf Paulus dit
aangrypend in verse 11-13. Die uitverkiesing sê dat die
dag toe ons die evangelie begin glo het, het ons ook
deel geword van God se nuwe volk. Op daardie dag het
ons oorgegaan van dood na lewe.

Mense wat glo weet die uitverkiesing van God staan
daaragter omdat hulle weet dat God alles gedoen het,
en dat hulle self niks kon doen nie.
Selfs hulle geloof kom van God af! Mense wat nie glo
nie word opgeroep om te glo. So eenvoudig is dit.
Daar is dus geen verskonings nie. Geloof word van
almal gevra. Glo jy in Jesus Christus? Wel, dan kan jy
weet jy is uitverkies. Ons kan nie sê iemand wat nie
glo nie is nie uitverkies nie, omdat ons nie weet of
daardie persoon nog tot geloof sal kom nie.
Soos die misdadiger aan die kruis wat op die laaste
oomblik paradys toe is.

Uitverkiesing is nie terugsit en wag nie, maar om God
se genade, deur die Heilige Gees wat jou daarvan wil
oortuig, aan te gryp!
Glo jy? Moenie die Heilige Gees weerstaan nie.
Gryp God se genade aan!

Ernest