Paulus bid in Efesiërs 1:18:
“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder
dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou...”
Paulus bid dat God ons hart se oë sal oopmaak.
Ons harte is soms stokblind vir God.
Ons kyk en sien net mooi niks nie.
Ons leef by God se goedheid verby. Paulus bid
dat die skille van ons geestelike oë sal afval en
dat ons regtig vir God sal sien! Hy bid dit sodat
ons sal verstaan wat God van ons vra noudat Hy
ons na Hom geroep het.
Gebed is om die onsienlike te sien. Dit is om
in God se wêreld in te beweeg en meer te verstaan
van Wie Hy is en hoe sy goedheid werk.
Begin meer met die “oë van jou hart” kyk.
Sien wat doen Hy in jou lewe, en in die lewe van
ander mense. Sien hoe sy Gees in die wêreld aan
die werk is. Beleef die ruising van hoe die Gees
verby beweeg. Voel God se hand op jou.
Bid saam met Paulus dat God jou hart sal aanraak
en jou geestesoë oopmaak. God luister na gebed.
Om so saam met Paulus hiervoor te bid is om regtig
in God se wil te bid!
Jy sal die omvang van wat Hy besig is om in jou lewe
te doen meer en meer sien en ervaar!
Daarom kan jy seker wees:
As jy God vra om jou geloofsoë oop en wakker te maak,
sal Hy dit doen! Bid sommer met oop oë terwyl jy leef!
Terwyl jy vir Hom leef!
Ernest