Paulus bid ook dat God ons geestesoë so verhelder
dat ons kan ontdek hoe geweldig groot sy krag is
wat Hy uitoefen in ons wat glo! Efesiërs 1:19-20.
Hierdie is ‘n wonderlike gebed wat Paulus bid!

Kyk net wat bid Paulus: Dat ons geestesoë sal
oopgaan om te besef God werk in ons met dieselfde
krag as wat Hy gebruik het toe Hy sy eie Seun uit die
dood opgewek het! Ja, jy het reg gelees!
Gaan lees verse 19-20! Hierdie gebedsverse van
Paulus in Efesiërs is gelaai met krag! God se krag!
Dit vertel van God se krag wat deur ons vloei!

Hoekom voel ons nie altyd hierdie groot
opstandingskrag van God nie?
Gewoon omdat ons bloot net ‘n geleier van God
se krag is! Net so min as wat ‘n elektriese draad
die groot krag voel wat daardeur vloei, net so min
voel ons soms die krag van God in ons lewe.
Want ons is geleiers van God se krag!
Nie die eindverbruikers daarvan nie.
Nie die opgebruikers daarvan nie.
Ons is God se kinders deur wie God se krag vloei!
Die resultaat is te sien daar waar God deur jou werk.
Daar waar die eindpunt van God se krag is.
Daar waar sy lig skyn! Daar moet ons God se krag
aan die werk sien. Ons moet nie die resultate selfgerig
in onsself gaan soek nie.

Wat jy vandag moet weet is dat God se krag deur jou
aan die werk is in hierdie wêreld. Ja, “dieselfde kragtige
werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy
Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel
aan sy regterhand laat sit het.”
Ons het die opstandingskrag van God in ons!
Bid dat jy elke dag sal bewus wees van
“...hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons
wat glo.”
En laat daardie einste krag van God dan aanhou vloei,
deur jou!

Ernest