Soos die seuntjie na kerk aan sy pa gesê het:
dit lyk vir hom of die dominee teen sonde is!
God is verseker teen sonde! God haat sonde
met ‘n heilige toorn! Want sonde maak dood
wat God skep. Sonde is ‘n doodsvonnis oor
jou lewe. Dit is om morsdood te wees in God
se oë, al haal jy asem!

So het dit vroeër met ons almal gegaan, sê Paulus.
Ons het almal in opstand teen God geleef.
Hy skryf in Efesiërs 2:1-2: “Julle was dood as gevolg
van julle oortredings en sondes wat vroeër julle
lewenswyse gekenmerk het.”
Sonde en die dood is God se grootste vyand want
dit maak slawe van die mens. God se kroon van sy
skepping word slawe van die sonde.
Sonde maak dood!

Die Bose stel nie in die mens belang nie,
maar wil God se Naam oneer aandoen.
Hy vernietig jou om God oneer aan te doen!
Dit maak dat die vors van die duisternis jou baas word.
Die grootste hartseer vir God is dat die mens agter
elke denkbare sonde aandrentel. Sonde is ‘n harde baas.
Dit laat jou 24/7 en 365 dae van die jaar vir die sonde
werk. Die werke van die vlees,
teenoor die lewe vir die Here wat die vrug is van die Gees!

Sonde is ‘n sterk mag. Maar God is die Al-Mag!
Die Almagtige God! Hy troef sonde. Hy oorwin met
genade en liefde. God maak sonde slagoffers van voor af
lewendig! Dit gebeur deur geloof in Jesus Christus.
Dan word ons vry! Nuut! Vol nuwe lewe!
Wonderlikste nuus van alle nuus!!
Wie is jou god? Of dien jy die Almagtige God?
Moenie langer agter sonde aandrentel nie...

Ernest