Christus breek nie net die mure af
tussen ons en God nie, maar ook die mure
tussen mense! Efesiërs 2:14 sê:
“Christus is ons vrede, Hy wat dié twee,
Jode en nie-Jode, een gemaak het.”
Daar was gedurig spanning tussen Jode en
ander volke. Ook in Paulus se tyd.
Baie Israeliete het gedink net hulle is God
se uitverkore volk. Hulle is die uitverkore
mense en ander mense is eintlik niks.
Dit het ‘n muur gebou tussen hulle en ander
mense wat nie Jode was nie.
Christus kom breek dit af.
Christus se bloed maak hierdie vrede moontlik.
Sy bloed praat versoeningstaal. Ook in die kerk
gebeur ‘n wonderwerk: Mense uit verskillende
groepe en volke kom hier met mekaar oor die
weg en het mekaar lief met die Here Jesus se liefde.
Vers 16 sê: “Deur sy dood aan die kruis het Hy ‘n
einde gemaak aan die vyandskap en die twee
met mekaar versoen...”
God se volk kom uit alle volke en is ‘n nuwe volk
met splinternuwe waardes en ‘n nuwe taal.
Hierdie volk staan bekend as Christene.
Hulle is van oor die hele wêreld! God se koninkryk
is hulle ryk. Hulle praat die taal van die evangelie.
Hulle taal praat die woorde van liefde, harmonie,
hoop, vrede en versoening. Hulle praat opbouende
woorde in plaas van haatspraak.
Ons is deel van God se nuwe volk!
Ons verteenwoordig Hom. Ons is vredemakers!
Ons getuig die woorde van God.
Ons leef dit ook aktief uit.
Beywer jou elke dag daarvoor.
Jy is daarvoor geroep en gered.
Ernest