Efesiërs 2:19 sê hierdie treffende waarheid:
“Julle is dus nie meer ver van God af nie...”
Ons lewe word daagliks bepaal deur afstande.
Ons weet hoe ver dit werk toe is, en skool toe,
en winkel toe. Hoe ver ons familie en vriende
van ons af is, is ook vir ons belangrik.
En dikwels voel dit baie ver!
Vir baie mense is die belewenis dat God ook ver is.
Die hemel is onberekenbaar ver...en God is ‘n veraf
werklikheid wat van ver af op ons neerkyk.
Maar dit is verseker nie die waarheid nie,
en dit is wonderlike nuus. God “bly” nie ver nie.
Dat Jesus hemel toe is, sê eweneens nie dat God
nou ver is nie. Daar is geen afstand ter sprake
wanneer dit oor God en sy kinders gaan nie.
Paulus sê dit ook hier in ons teksvers. Ons is nie ver
van God af nie. Ook Filippense 4:5 sê “die Here is naby.”
Daarom het die Here ook besluit om die Heilige Gees
na ons toe te stuur na sy hemelvaart. Die Heilige Gees
woon nou in ons en Hy lei ons in die waarheid.
Selfs wanneer jy bid, en God “voel ver”, wees verseker
dit is nie so nie. Hoe ons voel bepaal nie waar God is
of hoe ver Hy is nie. Neem Hom op sy Woord dat Hy
in jou woon deur die Heilige Gees.
Niks of niemand kan nader aan jou kom as Hy nie.
Leef uit hierdie waarheid. Daagliks!
Wees bewus van die werklikheid van die
teenwoordigheid van die Here in jou lewe.
Elke dag, 24/7!
Ernest