Dissipels van Jesus bly altyd leerlinge.
Die geheim van dissipelskap is om altyd
‘n leerling van Jesus te bly. Die dag wanneer
jy Jesus met jou lewe begin volg, moet jy
nooit dink dat jy op ‘n punt nie meer iets te
leer het van Hom, of van ander kinders van
die Here nie.
Ware dissipels van Jesus is altyd voltydse
studente in die koninkryk van God. Hulle hou
nooit op met leer nie. Inteendee!
In Matteus 13:5 vra Jesus aan sy dissipels:
“Verstaan julle al hierdie dinge?”
Hulle antwoord Hom: “Ja.” Dan sê Hy in
vers 52 vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat
‘n leerling word in die koninkryk van die hemel,
soos ‘n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe
en ou dinge te voorskyn bring.”
Jesus sê dat selfs die skrifgeleerdes dit moet
snap! Al sy volgelinge moet leerlinge bly.
So sal hulle altyd nuwe skatte in God se
skatkamers raakloop. Dit beteken om stil te raak
in die Woord. Dit beteken ook om na God te
luister in gebed. Dit beteken verder om saam
met medegelowiges te groei en altyd te hoor
wat die Here deur hulle ook sê. Om ook saam
met hulle in die Woord te wandel!
Om ‘n leerling van die Here Jesus te bly, beteken
ook dat jy self baie skatte het om uit te deel.
Dit wat die Here deur jou aan ander wil gee.
Jou lewe is ook propvol geestelike krag,
want jy is ingeskakel by die Here.
Jou hemelse Kragbron! Wees doelbewus
‘n student, ‘n leerling van die Here.
Dit is ‘n avontuur en maak jou,
en ander rondom jou skatryk!
Ernest