Jesus het op aarde winde en storms stilgemaak.
Maar Hy het ook sommer ligvoets op water geloop.
Wanneer Hy na die dissipels aangestap kom op die
water waar hulle in ‘n skuit is, skrik hulle hul
boeglam! Hy stel hulle dadelik gerus in Matteus 14:27
met die woorde: “Dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

In die kolkende waters nooi Hy selfs vir Petrus om
na Hom toe te kom! Dadelik durf Petrus die water aan.
Hy bly selfs vir ‘n tydjie bo. Maar toe Petrus die groot
golwe sien het sy moed hom begewe. Of eerder:
sy geloof het hom begewe. Hy het in die water weggesink.

Dikwels sak ons ook in die water weg omdat ons geloof
en vertroue in die Here “ons begewe.” Ons begin sterk
maar eindig swak omdat ons te doen het met
omstandighede wat anders verloop as wat ons verwag.
In die grootste nood is ons hulpgeroep dan weer na die
Here. Petrus se hulpgeroep is dadelik met die Here se
helpende hand begroet.
Maar Jesus was baie teleurgesteld oor sy dissipels se
klein geloof. Die probleem is dat Petrus nie sy oog op
die Here Jesus hou nie, maar wegkyk van Hom af na die
golwe en onstuimige see.

Wanneer ons ons oë op Jesus hou in die storms,
sal ons saam met Hom “op die water kan loop!”
Hy is saam met ons in die storm! Petrus se fout is die
klassieke fout wat ons maak wanneer ons deur moeilike
tye gaan. Ons haal ons oog van die Here af!
Hou jou oog gerig op die Here! Elke oomblik van jou lewe.
Op kalm waters, en veral ook in stormweer!

Ernest