Waar ons in Matteus 14 gelees het van Petrus
se geloof wat hom begewe het, lees ons in
Matteus 15 van geloof wat die onmoontlike regkry!
Een van die merkwaardigste voorbeelde van geloof
in die ganse Bybel tref ons in Matteus 15 aan waar
‘n Kanaänitiese vrou die “onmoontlike” regkry!
Sy slaag daarin om Jesus in ‘n hoek in te glo!
Wanneer hierdie vrou besef dat dit regtig baie sleg
met haar kind gaan, waag sy in die eerste plek die
onverwagte en onaanvaarbare vir daardie tyd.
Sy loop in die openbaar agter Jesus aan, met ‘n
spesifieke doel. In die tweede plek vra sy Hom dat
Hy haar kind moet genees.
Dan gebeur die nog meer onverwagse. Jesus ignoreer
haar aanvanklik! En dan nog meer: die dissipels wil
haar selfs wegjaag omdat sy nie moed opgee nie en
aanhou skree!
Toe praat Jesus met haar. Mens is eintlik verlig as jy
dit lees... Maar dit klink nie op die oog af na
oorvriendelike woorde nie. Hy herinner haar dat sy
‘n heiden is. Hy het vir Israel se verlore skape gekom.
Weereens gee die vroutjie eenvoudig nie moed op nie!
Sy val voor Jesus neer en versper sy pad!
Dan neem die gebeure nog ‘n wending!
Jesus sê vir haar dat sy eintlik baie lelik maak deur
Israel se geestelike kos uit hulle monde te probeer vat.
Mens wonder by jouself of Jesus reeds geweet het
waarheen hierdie ding loop, en dat Hy haar geloof tot
die uiterste toe beproef. Moontlik ook om aan die Jode
om Hom, wat so moeilik glo, ware geloof te wys.
In elk geval..
Sy waag haar laaste dapper geloofstap:
“Ja, Here, dit is waar, maar gee maar net vir my die
krummeltjies van U genade. U kan aanhou om brood
vir Israel te gee. ‘n Krummeltjie van U hemelse genade
is oorgenoeg vir my en my kind.” Jesus was oorweldig
deur hierdie “ongelooflike geloof!” Hy sê vir haar:
“...jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”
Daar en dan het Hy haar wens toegestaan.
Ons moet vandag by hierdie vrou leer wat geloof is.
Dit gee eenvoudig nie op nie. Dit weier om die Here
te los. Dit haal nie jou oog van die Here af nie.
Dit kry die “onmoontlike” reg!
Dit vertrou God onvoorwaardelik.
Ook vir die onmoontlike!
Gaan glo só!
Ernest