Dikwels gebeur dit dat iemand iets sê wat sommer
baie gewig dra. ‘n Regter of ‘n landdros se vonnis
dra byvoorbeeld baie gewig. Sport afrigters se
woorde dra baie gewig as hulle gerespekteerde
afrigters is. Daar is ook onderwysers wat ‘n groot
invloed op kinders uitoefen omdat hulle uitstaan
as mense wat kinders optel en help tot lewenswysheid
en sukses. Daar is ook woorde van beroemde leiers
soos Churchill, Kennedy en Mandela wat vir baie mense
baie gewig dra.

Het jy al woorde uitgespreek wat mense se lewens
verander? Woorde wat mense baie beïnvloed het tot
lewensverandering?
Wel, as jy ‘n Christen is het jy ten minste al een sinnetjie
in jou lewe gesê wat jou eie geskiedenis in ‘n oogwink
verander het! Want dan het jy al bely dat Jesus die Here
van jou lewe is! So het Petrus in Matteus 16:16 bely:
“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Hierdie woorde is die belangrikste wat jy ooit gesê het,
of ooit sal sê. Het jy al ooit daaraan gedink dat dit jou
lewe omgekeer het van duisternis na lig, van dood na lewe!
Die oomblik toe jy dit bely het, het hemel en aarde beweeg
sonder dat jy eers daaraan gedink het. God het daar en dan
jou naam in die boek van die lewe geskryf! Jesus het vir jou
plek voorberei in die hemel. Niks kan hierdie woorde ooit
stilmaak nie. Jou getuienis dat Jesus die Here is, is die
belangrikste woorde wat jy ooit kan sê!
Gaan leef dit nou ook uit met oorgawe!

Ernest