Jesus se optrede is dikwels gekenmerk deur
wonderwerke. Hy het die een magtige daad
na die ander gedoen om vir die mense te wys
dat die koninkryk van God naby gekom het.
Wanneer Hy duiwels uit mense gedryf het,
siekes genees het, dooies laat opstaan het
en die see stilgemaak het, kon mense sien dat
God se koninkryk op hande is en dat ‘n nuwe
wêreld aangebreek het. Sy wonderwerke was
soos groot vensters waardeur die mense dit
kon sien. God se koninkryk is op hande!
Maar toe kom daar ‘n wending wat die mense
nie verwag het nie. Op ‘n dag het Jesus dit begin
bekend maak dat sy pad lyding sou bring. Hy het
gekom om te ly. Hy het gekom om sy lewe af te lê.
Die Messias se pad sou sy dood beteken. Op sy
pad is swaarkry, verwerping en die doodsvonnis.
Dit is die manier waarop God besluit het om
versoening vir die mens se sondes te bewerkstellig.
En dit kon nie anders nie. Net God kon die inisiatief
neem. Net God kon dit doen. Net Christus kon
voldoen aan die betaling vir sondes omdat net Hy
sonder sonde was. En Hy moes mens word om in
die mens se plek te betaal daarvoor. Daarom sê
Filippense 2:6-8 ook dat “Hy wat in die gestalte van
God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie
beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
maar Hy het Homself verneder deur die gestalte
van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te
word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy
Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam
tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”
Die wonderlike nuus is dat Hy die dood oorwin het!
In Matteus 17:23 sê Jesus vir sy dissipels:
“...en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek
word!”
Dit het Jesus se koms na die wêreld gevra. Hy moes
die pad van lyding vir ons kom loop.
Buig vandag in eerbied voor die Here.
Moenie dat hierdie boodskap vir jou te bekend is nie.
Eer Hom as die Here wat vir jou die hoogste offer
denkbaar betaal het, wat in jou plek kom sterf het.
Aanbid Hom as jou God. Leef vir Hom!
Ernest