Ons dink baie ingewikkeld oor die koninkryk
van God. Die eenvoudige boodskap van die
evangelie word moeilik gemaak deur verskillende
interpretasies, gebruike, tradisies, en so meer.
Jesus het iets hiervan kom sê met die woorde
in Matteus 18:3: “As julle nie verander en soos
kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die
koninkryk van die hemel kom nie.”
Kinders leef so opreg en bedoel opreg, en droom
kinderlike drome. Hulle kan ook so eenvoudig met
die Here praat vanuit hulle leefwêreld. Soos die
seuntjie wat gebid het: “Liewe Heer, U moet
asseblief versigtig wees. Ek het gisteraand saam
met my pa-hulle alweer ‘n ster uit die hemel
sien val!”
Ons grootmens drome word so maklik nagmerries.
Ons drome raak ‘n gejaag na geld, status, prestasie
en besittings. Ons sien nie meer “die sterre uit die
hemel val nie.” Ons sien nie meer God se sterre
raak nie. Ons leef verby die koninkryk van God.
Ons is so in die harde wêreld van oorsaak en gevolg
opgeslurp dat ons nie meer die onmoontlike van God
verwag nie. Ons dink ons moet alles bewerk of verdien.
Ons leef verby die klein dingetjies in die lewe wat die
groot dinge is, in God se oë.
Jesus kom gee perspektief met sy woorde oor die kinders.
Ons moet weer kinders word. Sorgvry omdat die Here
regtig sorg. Opreg in gebed, ook oor “sterre wat val.”
Nie ‘n enkele grootmens sal dit regkry om self in die
hemel te kom nie! Volgens Jesus is daar plek vir kinders.
Mense wat kinders van God word en daarmee soos
kinders word, sê vers 3. Kinders is nederig. Hulle kyk in
afhanklikheid op na God. Hulle respekteer ander mense.
Hulle trap nie op mense nie. Grootmense met kinderharte
staan ook ‘n kans by God.
Word weer, as kind van God, soos ‘n kind voor God!
Ernest