Ons ken die bekende vraag van Matteus 18:21:
“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe...”
Weerwraak is die in ding in die wêreld van ons tyd.
Soveel so dat die gesegde deesdae lui:
“Slaan eerste terug!” Almal skree om wraak en bloed.
Wraak is so eie aan die mens. Jy soek ander se bloed
as joune gevloei het. Mense beplan maksimum pyn
vir mense wat aan hulle pyn veroorsaak het.
Jesus sê sy volgelinge is nie deel van hierdie plan nie.
Gelowiges in Christus vergewe! Elke keer. Altyd. Oral.
Die spiraal van haat word elke keer gebreek in die
koninkryk van God. Die spiraal van vergifnis kom in die
plek daarvan. Vergifnis, hoop, en liefde.
Dit is nie altyd maklik nie. Ons weet dit. Veral nie as jou
geliefdes slagoffers van geweld was nie.
Die probleem is dat jy self ‘n slaaf word van dieselfde
mense as jy nie vergewe nie. So bly hulle jou geweld
aandoen, die res van jou lewe! Deur jou eie gebrek aan
vergifnis loop hulle geweld voort in jou lewe!
Ons uitdaging is om deur die krag van die Here haat
te oorwin. En ons doen dit net deur vergifnis.
Jesus hang aan die kruis weens die haat van die mens.
En wat sê Hy: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie
wat hulle doen nie. Daarom leef Jesus se volgelinge die
lewe van vergifnis.
Weereens: dit is nie maklik nie, maar die Here sal dit nie
van jou vra as Hy nie self dit vir jou moontlik maak in sy
krag nie. Moenie in eie krag hierop staatmaak om te
vergewe nie. Doen dit in God se krag. Al kos dit wat!
En breek so die spiraal van geweld wat jou wil aftrek
en jou lewe lank geweld aan jou wil doen,
net omdat jy nie kan of wil vergewe nie.
Vergewe vandag. Deel vergifnis uit.
Oral waar jy lewe.
Ernest