Efesiërs 2:5 is een van die treffendste tekste
in die Bybel! Dit sê oor God:
“Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was
as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus
lewend gemaak.”
En dit terwyl ons nog vyande van God was!
Dink net aan Romeine 5:10: “Aangesien ons,
toe ons nog vyande was, deur die dood van
sy Seun met God versoen is, staan dit soveel
vaster dat ons, noudat ons versoen is deur die
lewe van sy Seun gered sal word.” Wow!

Hoekom gee God om vir sy vyande?
Hoekom red God sy vyande? Ons!
Ons doen dit nie. kom ons wees eerlik. Ons hou
glad nie van ons vyande nie! Haat hulle selfs!
Dit is inderdaad hoekom ons hulle ons vyande noem.
Ons bly uit mekaar se pad. Of ons haal hulle uit die pad!
Maar nie God nie. Nee. Hy steek sy hand uit na sy vyande.
Na ons toe. Sy reddende hand!
Dit is ‘n oop hand vol liefde. Hy wil sy vyande verander
van dooies na lewendes.

Steeds die vraag: Hoekom doen God dit?
Paulus gee die antwoord hierop: God is ryk in
barmhartigheid, genade en liefde. Ef. 2:5 sê:
“Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg
van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak.
Uit genade is julle gered!”
God het ons innig lief! Daarom doen Hy dit! Genade.
Liefde. Barmhartigheid.

God se liefde stroom oor na ons toe. Dit stroom oor na
sy vyande toe. Dit is hoe God is. In plaas daarvan dat
Hy ons, sy vyande, in die doderyk gooi, gee Hy aan ons
die nuwe ewige lewe! Hy doen dit verniet. God is liefde.
God is die God van liefde.
Antwoord Hom deur Hom bo alles lief te hê,
en jou naaste soos jouself.

Ernest