In Matteus 19 is Jesus weer by die kinders!
Hy sê in vers 14: “Laat staan die kindertjies
en moet hulle nie verhinder om na My toe
te kom nie…” Jesus se hart klop vir kinders,
sondaars, en stukkende mense.
Mense wat nederig van hart is. Wat nie
hoogmoedig is nie. Die belangrike is dat
Jesus nie verby kinders loop of leef nie.
Hy loop en leef teen hulle spoed!

Om die waarheid te sê, die Here bring die
Goeie Nuus rustig na mense toe. Hy jaag nie
daarmee nie. Jesus het die koninkryk van God
teen loop-spoed na mense toe gebring.
Nie teen jaag-spoed nie. Hy bring dit ook na
“vreemde gehore”, soos kinders, en ‘n
Samaritaanse vrou by ‘n put, na Saggeus,
wat in ‘n boom sit waar Hy verbyloop...

Jesus se gunsteling spoed was stapspoed.
‘n Perd was die vinnigste vervoermiddel
van daardie tyd. Jesus maak nie van perde
gebruik omdat Hy haastig is nie.
Die probleem is dat ons te vinnig verby Jesus
wil beweeg. Ons jaag teen drukspoed.
Sy loop-spoed en rustigheid, en ons
hoog-spoed en spanning, sinkroniseer nie
mooi nie. Ons is “te haastig” vir die Here.
Ons “het nie tyd nie.” Ons hoor nie wat Hy
sê nie, en het nie tyd vir stil raak nie.

Vandag nog beweeg Jesus rustig voort met
die evangelie van Goeie Nuus. Dit is nie Hy
wat in pas met ons moet kom nie. Dit is ons
wat in pas met Hom moet kom.
En solank ons uit pas is verbeur ons baie seën.
Ons moet rustig op Hom wag...
om ons ryklik te seën.

Ernest