Wanneer jy selfgerig is beleef jy die evangelie radikaal.
Wanneer jy op God gerig is en jou oog gevestig hou op
Jesus, beleef jy vreugde en bevryding in die evangelie.
In Matteus 19:21 sê die Here vir die ryk jong man:
“...gaan verkoop al jou besittings...” Dit vra eintlik alles
van hierdie man. Moet jy regtig alles wat jy het weggee
om Jesus te volg? Dit is regtig baie moeilik. Is dit regtig
wat Hy wil hê? Wel, Jesus vra alles. Hy wil niks minder
hê nie, as dat jou hele lewe aan Hom toegewy is.
Wanneer jy net jou hart vir Hom gee, maar jou hande
en jou voete en jou geld vir jouself hou, dan is jy in die
moeilikheid. Dan verstaan jy nie wat dissipelskap regtig
beteken nie. Dan gee jy te min weg.
Dit was die geval met die ryk jong man. Juis omdat dit
nog die een ding is wat tussen Hom en die Here staan,
juis daarom vra die Here van hom om dit alles weg te gee.
En Hom te volg!
Moenie wag dat die Here jou eers moet konfronteer oor
dit wat jy nie bereid is om weg te gee nie. Om alles te los
en Hom te volg nie. Besluit doelbewus dat die Here vir jou
bo alles belangrik is, en dat niks jou van Hom sal weghou nie.
Dit is tog ook wat bekering en heiligmaking beteken!
Stel jou hele lewe, alles wat jy is en het, in sy diens.
Gee jou lewe “betyds” totaal weg! Die ryk jong man het
slegs ‘n deel van sy lewe in God se diens gestel. Sy geld het
syne gebly om daarmee te maak wat hy wil. Daarom kom
eis Jesus dit nou op vir God as die jong man in Matteus 19:16
vir Jesus vra: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om
die ewige lewe te verkry?”
Alles behoort in elk geval aan die Here.
Alles wat jy het. En ook jy, self. Jou hart, jou liggaam,
jou denke en gedagtes, jou beursie, alles...
raak bevry van jouself en jou goed.
Behoort aan die Here!
Ernest