In genade is almal gelyk. Daar is nie rangorde
ter sprake nie. Die een kan nie op meer genade
aanspraak maak as die ander nie. Party mense
dink ook daar gaan eendag ‘n rangorde van
gelowiges in die hemel wees.

Jesus vertel ‘n gelykenis wat hierdie siening as
heeltemal verkeerd bewys. Hy sê in Matteus 20:16:
“So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”
Hy vertel van arbeiders wat op verskillende tye van
die dag gehuur word en dan ook op verskillende tye
begin werk. En dan ontvang hulle aan die einde van
die dag dieselfde betaling, ongeag hoe laat hulle
begin werk het.

God se genade werk so! Daar is nie spesiale gelowiges
vir wie Hy besondere plekke uithou nie.
Verder ontvang almal genade van God, ongeag wat
en hoeveel jy kan doen of gedoen het. Die een verdien
nie meer genade as die ander omdat hy langer en meer
gedoen het nie.
Almal is in terme van genade gelyk voor God.
Die grond voor die kruis is gelyk. Daar is nie trappies
waarop party hoër as ander staan nie.
Die Here het ewe veel vir almal se sondes betaal.
Met sy lewe. Hy het nie meer gesterf vir die een as vir
die ander nie.
Daarom gee Hy vir ons elkeen dieselfde status voor
ons hemelse Vader. Ons word God se kinders wat Hy
almal ewe liefhet. Dit is wonderlik om dit te weet.

Jy is nie minder belangrik in God se oë as enige iemand
anders nie! Hy het jou so lief as vir enige iemand anders.
Wees dankbaar vir God se gelykop genade!

Ernest