Jesus sê in Matteus 20:26:
“Elkeen wat in julle kring groot wil word,
moet julle dienaar wees...”
Iemand het by geleentheid gesê dat Jesus se
volgelinge eintlik ‘n nuwe spesie op aarde is!
Hulle het Goddelike bloed in hul are.
Hulle het ‘n nuwe DNS struktuur. Die van Jesus!
Hulle doen die onmoontlike.
Hulle dien ander mense, selfs die wat gladnie
van hulle hou nie. Hulle doen eenvoudig wat
Jesus gedoen het, en vandag nog doen.
Hulle kan nie anders nie, want die liefde van
Jesus dring hulle! Hulle streef daarna om Jesus
se beeld uit te leef en sy lig te laat skyn.
Hulle weerkaats Jesus!

Jesus maak sondaars sy vriende. Hy red mense
wat verdwaal het op die pad van die lewe.
Hy gee altyd genade vir mense wat om sy hulp roep.
Sy goedheid het geen perke nie, en hou nooit op nie.
Sy deernis verander sondaars in nuwe mense.

Jesus se volgelinge loop graag op hierdie voetspoor.
Hulle volg Jesus se voorbeeld dag vir dag.
Hulle doen dit wat Hy wil hê, al beteken dit dat hulle
laaste in die ry staan.
Hulle hardloop nie vir die beste plekke nie.
Hulle gee dit vir ander. Gelowiges word nie uitgeken
aan hulle kerkklere of kerktaal nie, maar aan hulle
nuwe manier van lewe! Dit is hulle DNS.
Hulle kan nie anders nie! Leef jy só?
Jy al die gawes en toerusting van die Here ontvang
om so te kan leef.
Dit is dan nie meer jý wat leef nie, maar die Here ín jou!

Ernest