Almal het afgedwaal. Almal het ontaard.
Niemand doen uit eie wil wat God vra nie.
Niemand nie! Maar…!! Die genade “maar”!
Paulus skryf hieroor in Romeine 3:24:
“…maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien,
op grond van sy genade vrygespreek…”
Dit is die enigste oplossing vir sonde en die dood!
En dit is net God wat dit kan doen! In Jesus Christus!
Hierdie boodskap moet nooit vir jou gewoon raak nie!
Eers as jy besef hoe groot jou sonde was, en dan
ontdek wat God gedoen het om jou daarvan te bevry,
eers dan sal jy, dankbaar vir jou verlossing,
jou hele lewe aan die Here wy!
Jesus ruil aan die kruis met óns volledig plekke om!
Soveel so neem Hy die sondaars identiteit aan,
dat God eintlik vir ons daar sien hang! Wanneer God
dan uiteindelik vir Jesus met die dood straf,
gaan ons saam met Hom dood! Om die reddende
genade van God te ontvang moet ons ons hand in
geloof uitsteek, en in die versoening wat Jesus vir ons
bewerk het glo! Ons moet eenvoudig glo dat Jesus
elke sonde aan die kruis vir ons gedra het.
Letterlik elke sonde! Hy het in ons plek volledig
daarvoor betaal. Dit is ten volle vereffen.
Dit is wat dit beteken as Jesus aan die kruis uitroep
dat dit “volbring” is! Dit is die enigste Goeie Nuus
wat die wêreld kan omkeer en verander!
Leef dit daarom doelbewus uit, met woord en daad!
Jy is ‘n bedienaar van God se versoening aan mense!
Ernest