Die Psalms bly baie gelowiges se gunsteling
leesstof in die Bybel. Die Psalms gee uitdrukking
aan die diepste emosies by mense. Van hartseer
tot blydskap. Van lof tot teneergedruktheid.
Dit vertel van die mens se worsteling, en
oorwinnings. Van stryd in die lewe en aanvegtinge.
Dit bely ook gelowiges se gebrokenheid voor die Here.
Maar dit jubel ook oor oorwinnings in sy Naam.
Dit is ‘n kosbare skat in die Bybel wat ons help om
ons eie belewenisse te verwoord. Wat ons
vrymoedigheid gee om ook met die Here te stoei
oor dinge van onbegrip en verskil.
Die Psalms is inderdaad God se geskenk aan ons
in sy Woord, om ons deur sy Gees te lei, en te troos,
te bemoedig en te inspireer om te volhard in die lewe
vir Hom. Die Psalms leer ons bid, sing, huil, dans en
feesvier! Dit is dikwels feeskos vir die siel en ander
kere die sakdoek wat ons trane afdroog.
Lees weer die Psalms!
Psalm 1 begin sommer met lewensmusiek!
“Dit gaan goed met die mens...” Wanneer? Hoe?
Die mens wat sy vreugde vind in die Woord van die Here!
Die wat die Woord van die Here dag en nag oordink!
Die wat toelaat dat die Woord hulle gedagtes vul.
Wie se denke gevul word met hemelse inhoud.
Wanneer jy jou vreugde vind in die Woord van die Here,
rig dit jou op God se pad vir jou, en maak dit jou lewe
standvastig. Wanneer jy daagliks jou vreugde vind in die
Woord van die Here, en daagliks dit implementeer in
jou lewe, gaan dit goed met jou. Al dink jy dit gaan nie
goed nie.
Want dan beleef jy God se teenwoordigheid te midde van...
Jy is seker van sy teenwoordigheid ten spyte van...
Die wêreld het honderde definisies van “goed gaan” met
die mens. Dit is jou keuse watter definisie jy kies en navolg
in jou lewe. Oordink of jy nie verseker hierdie een wil kies
uit die Woord van die Here nie.
Dit is wat God sê oor “goed gaan”.
Psalm 1:1-2: “Dit gaan goed met die mens wat in die woord
van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.”
Ernest