Die psalms maak musiek te midde van ‘n harde lewe!
Wanneer Dawid Psalm 52 skryf, is dit kort nadat die
nuus by koning Saul uitgekom het dat Dawid in die
huis van die priester Agimelek is. 1 Samuel 21 vertel
ook hiervan. Dit is die tyd toe Dawid moes vlug vir
sy lewe. Saul wou hom met mag en mening vermoor!
Hierdie nuus het die priester Agimelek duur gekos.

Toe Dawid hiervan hoor het hy hom in gebed tot God
gewend. Sy belydenis in hierdie tyd, en sy lewens lied,
is egter dat God sy omstandighede kén. God weet van
alles! Dawid weet en bely dat God se grootheid steeds
sal seëvier. Hierdie belydenis word ook Dawid se
daaglikse belewenis en dit bly sy hele lewe lank so!

Al singende het Dawid oor God se nabyheid gesing en
dit daagliks beleef en uitgeleef! So het dit betekenis
gegee aan Dawid se harde lewe in hierdie moeilike
omstandighede waar hy deur die koning gejag word
vir sy lewe. So word sy harde lewe in hierdie tyd die
oefen plek vir sy geloof.

Dit beteken vir ons vandag so baie wanneer ons in
moeilike omstandighede is. Dit help om vir ons die
koers aan te dui na God toe, en ook saam met God!
Kommer is ‘n vreugde dief! Dit hou ‘n ernstige
bedreiging in vir jou geestelike en fisiese welstand.
Bekommernis vergiftig jou stadig maar seker van
binne af. Veral as dit ‘n lewenswyse geword het!

Hoe hou jy op om jou te bekommer, selfs in die
moeilikste omstandighede?
Leer ten minste by Dawid in Psalm 52 dat God
presies weet wat jy nodig het en dat Hy by jou is.
Hy weet waar jy jou tans bevind! Hy ken jou
omstandighede beter as jy! Hy sal vir jou, sy kind,
sorg! Dien Hom van harte met hierdie wete.
Vestig jou hoop op Hom wat groter is as jou
omstandighede! Hy sal elke keer opdaag met dit
wat Hy weet jy nodig het, al is dit ánders as wat jy
verwag of gedink het. Vertrou Hom met jou lewe,
hier en nou, en vir altyd!

Soek eerste in jou omstandighede die koninkryk
van God, en nie jou eie belang nie. Jy kan seker
wees van sy sorg vir jou, en Hom daarvoor vertrou!
Geen wonder Psalm 52 begin met hierdie woorde nie:
“Vir die koorleier. ‘n Gedig van Dawid.”
Dawid sing te midde van,
want Dawid vertrou te midde van...

Ernest