Dawid se psalms was nie maar net mooi gedigte
wat hy in die rustigheid van sy paleis saamgestel
het nie. Baie van sy psalms is gebore in die grootste
krisis tye. Soos Psalms 54, 56, 57, 60 en 63,
om maar net ‘n paar te noem. Dit is almal oor
moeilike tye in sy lewe. Baie moeilike tye.
Hy het in hierdie tye onder andere in grotte geskuil
en gevlug ter wille van oorlewing! Die koning wil
hom doodmaak! Dit laat ons dink aan Aleksander
Stolzjenitsin toe hy in een van die Siberiese Gulags,
of straf kampe, moes werk na sy kritiek op Stalin.
Volgens oorlewering het hy sy bekende lang gedig,
“Pruisiese Nagte”, daagliks op ‘n stukkie seep geskryf
en dit gememoriseer terwyl hy die seep gebruik het!
Dawid skryf ook in moeilike omstandighede.
Wanneer hy vlug. Ook wanneer hy oorlog maak.
Sy Psalm is nie net mooiweer psalms nie, maar ontstaan
ook in die moeilikste lewensomstandighede. Binne die
harde realiteite van die lewe. Dit is hoekom die psalms
so kosbaar is vir ons in alle lewensomstandighede.
Dit help ons om, soos Dawid wat ‘n kind van die Here is,
te dink en op te tree. Ons leer om soos Dawid te vertrou
en vas te byt. Dawid se psalms is nie om dowe neute in
die Woord van God nie. Hy was ‘n “man na God se hart!”
Ons kan, wil en moet by hom leer.
Dawid was nie ‘n professionele digter of komponis nie.
Hy was ‘n herder, krygsman en koning. Hy het in hierdie
lewensomstandighede sy lewe vir God getoonset, gesing
en uitgeleef!
Dit is die beste manier om met God te leer praat.
In al jou lewensomstandighede, en nie net in nood nie.
Dan is jou pyn, en vreugde, en dankbaarheid teenoor
die Here eg. Dan beleef jy ook jou troos in die Here,
sowel as jou vreugdes in die Here meer eg en werklik.
Jou lof is opreg, en ook jou eer aan die Here uit jou hart!
Psalm 56:4: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U.”
Ernest