Alhoewel die meeste psalms aan Dawid
verbind word, het ander psalm skrywers
ook bygedra tot die kosbare biblioteek
van die psalms. Een groep psalms het juis
ontstaan terwyl pelgrims op pad was na
Jerusalem vir groot jaarlikse feeste.
Vanaf psalm 120 en verder hoor ons hoe
hierdie mense sing te midde van hulle
lewensomstandighede. Hulle is op pad na
Jerusalem om te aanbid.

Psalm 121 is die mees bekende psalm in
hierdie verband. Vandag nog word die
erediens dikwels begin met die eerste deel
van die psalm. “Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
My hulp kom van die Here wat hemel en
aarde gemaak het.”

Die pelgrims moes deur moeilike
lewensomstandighede stap om in Jerusalem
te gaan aanbid. Deur berggebiede. Bo dit alles
sien hulle God uittroon. En hulle weet:
hulp kom slegs van die ewige almagtige God af.
Die Skepper van hemel en aarde.
Die Skepper-God sluimer of slaap ook nie,
sê die psalm. Hy word nie moeg nie, is nooit
afwesig nie, en is nooit elders met belangriker
sake besig nie! Die Here is aanwesig. Hy gee
aandag in jou lewe. Hy is betrokke. Hy gee om.

Vers 6 sê: “Bedags sal die son jou nie steek nie
en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.”
‘n Aanduiding dat God 24/7, dag en nag, na jou
omsien en vir jou sorg. God is hiér, selfs al voel
ons of dink ons Hy is dáár! God is nooit weg nie.
Selfs op die moeilikste lewenspaaie, is sy almag as
Skepper voelbaar wanneer jy saam met God reis.
God is ons hemelse Reisgenoot in hierdie lewe.
Sien Hom in geloof raak. Hy is saam met jou!
Kyk op en bo-oor die berge van die lewe rondom
jou, en sien Hom almagtig oor dit alles heers.
Hy is ons enigste loflied! Regtig!

Ernest