Iemand het by geleentheid gesê die Prediker is
die omgesukkelde skrywer van die Ou-Testament.
Hy is bekend vir ‘n hele paar sterk uitsprake wat jou
diep laat dink oor die lewe en die sin van die lewe.
Hy skryf die bekende woorde in 3:15:
“Wat is, was reeds. Wat kom, was ook alreeds.”
Ook die alombekende refrein waarmee hy sy boek
inlei in 1:2: “Alles kom tot niks.” En sy uitbreiding
hierop in 1:14: “Alles kom tot niks, dit is ‘n gejaag
na wind.”
Prediker word soms die siniese stem van die Bybel
genoem. Ander sien hom as die groot fatalis.
Min mense noem hom ooit die vrolike skrywer.
Tog is dit juis die goue draad van blydskap wat
regdeur die Prediker boek loop wat gedurig mis
gelees word en geïgnoreer word.
Nie minder nie as vyf keer noem hy dat die Here
se soort vreugde in eenvoudige dade van eet en
drink te vinde is!
In 2:25-26, 3:12-13, 5:17, 8:15 en 9:7.
Prediker 2:25-26: “Wie kan eet, wie kan geniet as
Hy dit nie moontlik maak nie? Vir die mens met wie
se lewe God tevrede is gee Hy wysheid, kennis en
blydskap. Maar die een met wie Hy nie tevrede is nie,
kry die taak om op te gaar en bymekaar te maak en
dit dan te gee aan een met wie God tevrede is.
Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is ‘n gejaag na wind.”
Dit is aangrypend dat Prediker ‘n volle vyf keer sê dat
daar niks beter is as om te eet en vrolik te wees in die
teenwoordigheid van die Here nie. Vreugde is ongelukkig
vir min mense ‘n daaglikse lewenswyse in die klein en
gewone dinge van die lewe. Eerder kommer...
Wanneer dinge voor die wind gaan, ja. Maar verder is
dit die lewe se moeilike “business as usual.”
Hoor by Prediker: Vreugde is die allerbeste roete.
Die Here Jesus het ook gekom sodat ons blydskap
volkome kan wees! Prediker sê ook hier dat God dit gee
vir die met wie se lewe Hy tevrede is. Daarom moet ons
dit najaag! Gaan lees deur hierdie vreugde tekste in
Prediker, en leef dit na! Die vreugde in die Here,
in die alledaagse lewe!
Ernest