Die Prediker het veral in sy lewe gesien
watter lokval rykdom en besittings vir mense
inhou. Hy skryf in hoofstuk 5:9:
“Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg
geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry
nooit genoeg in nie.” Geld is ‘n nimmereindigende
versoeking. Prediker het ‘n bitter slegte ding met
‘n ryk man sien gebeur. Hy skryf daarvan in
Prediker 5:12-16. Hierdie ryk man het verkeerd
sake gedoen en alles verloor. Die Prediker vra dan:
“Wat help dit dat hy hom vir wind afgesloof het?”
Blywende vreugde is nie in die najaag van geld en
besittings nie. Dit sien die Prediker duidelik as ‘n
student van die lewe. Dit deel hy in wysheid met ons.

Die belangrike roete wat die Prediker ontdek is
die roete van tevredenheid. Tevredenheid met dit
wat jy het. In hoofstuk 5:11 skryf hy dan:
“Die slaap van die arbeider is soet, of hy min eet of baie,
maar die oorvloed van die ryke laat hom onrustig slaap.”
Dit is beter om minder te hê en goed te slaap,
as wat jy baie ryk is en wakker lê omdat jy bang is jou
skatte word deur diewe, bedrieërs of inflasie geroof.

Die eenvoud van gewone werk waarin jy daagliks
vrede vind, is uiteindelik belangriker as rykdom en skatte
wat jou lewe so opeis dat jou lewe by jou verbygaan.
In 5:17 sê die prediker dat dit goed is om te eet en drink
en die lewe te geniet! Dit is God se geskenk aan die met
wie se lewe Hy tevrede is. Hulle het uiteindelik oorgenoeg
om te leef en dit te geniet! Hulle het feesvreugde in hul
eenvoudige woonplek en eenvoudige kos.

Dit laat ons ook dink aan Handelinge 2:46 wat oor die
eerste gemeente sê dat hulle van huis tot huis die
gemeenskaplike maaltyd gehou het, hulle kos met blydskap
en in alle eenvoud geëet het, en God geprys het!
Om eenvoudig te leef in God se teenwoordigheid,
is die lewe self!

Ernest