Leef nou, terwyl jy leef! Dit is wat Prediker
bedoel met 9:4: “Solank jy onder die lewendes is,
het jy hoop. ‘n Hond wat lewe is beter as ‘n leeu
wat dood is.” Dit is natuurlik vanselfsprekend!
Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop!
“Waar lewe is, is hoop”, sê ons dikwels.
Tog is dit so tragies dat massas mense wat die
Bybel lees nie leef met hoop nie. En nog minder
met vreugde! Daarom vind mense die Prediker
se wysheid soms moeilik om te verstaan.
Mense snap miskien nog die betekenis,
maar kry dit nie geleef nie. Kyk na Prediker se
idioom: “’n Hond wat lewe is beter as ‘n leeu
wat dood is.”
Mense sê honde het persoonlikhede en leeus nie.
Honde het name en leeus is net leeus.
Honde word nie ‘n trofee teen die muur nie.
Leeus beland dikwels met oop bekke teen ‘n muur.
Dit is beter om ‘n onbelangrike hond te wees as
‘n leeu wat se kop heeltyd op die spel is!
‘n Onbelangrike hond is meer werd as ‘n dooie
leeu wat geen krag of skoonheid meer het nie.
Leef dus voluit vir die Here terwyl jy leef!
Dit is belangrik. Nie of jy ‘n hond of ‘n leeu is nie.
Net God is belangrik!
Die volgende verse roep die Prediker dan die mens
op om met vreugde te leef terwyl jy leef!
Vers 7: “Eet dus jou brood met vreugde, en drink
jou wyn met ‘n bly gemoed; God het lankal reeds
goedgekeur wat jy doen.”
Vreugde gebeur in iets klein wat deur die genade
van die Here geniet word, soos brood en wyn.
Daar waar die here saam met jou as Eregas aansit.
Dit is die betekenis van die woorde:
“God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.”
Geur ook jou hare met olie, sê hy, en trek feesdrag
aan om die lewe te vier!
Vier ook jou huwelik en die lewe saam met jou
lewensmaat, sê hy in vers 9.
Leef nou! Leef met hoop. Leef met vreugde!
Dit is lewe!
Ernest