God sê keer op keer in die Bybel dat ons die
lot van die armes en verdruktes moet raaksien.
Ons moet ons oor hulle ontferm. Die profete
praat dikwels met die volk oor hulle godsdienstige
blindheid oor die onreg aan mense. God self is
besorg oor mense wat deur ryk en belangrike
mense in die samelewing vertrap word.
Hy ontferm Hom oor weduwees en weeskinders.
Oor vreemdes en randfigure.
Hoekom ignoreer ons hierdie mense so maklik?
Want hulle is vir ons onbelangrik! Prediker 9:6 sê:
“Wysheid is wel beter as krag, maar die wysheid
van die arme word geminag, en niemand luister
na wat hy sê nie.” Hulle het nie ‘n stem of invloed
in ons oë nie. Hulle opinie tel nie. Ons is vir onsself
baie belangriker as wat hulle vir ons is.
Ons dink in elk geval dat hulle nie met wysheid
geseën is nie!
Die Prediker sê ons moet nie blind wees vir die
wysheid wat te vind is by eenvoudige mense nie.
Ons sogenaamde krag en welvaart moet ons nie
blind maak nie. Doodgewone mense wat nie hierdie
dinge het nie, het heel dikwels die grootste wysheid
in die lewe! God gee dit aan hulle!
Paulus het ook aan die begin van die eerste brief
aan die Korintiërs gesê die wysheid van God word
juis aan die eenvoudiges en die armes van die wêreld
gegee, om die magtiges en die rykes te beskaam.
Maak vandag jou ore oop vir wysheid van die
eenvoudigste mens wat saam met jou of langs jou leef.
God verpak orals hemelse wysheid wat ons verseker
gaan misloop as ons dit net by onsself of die
“belangrike” mense soek!
Ernest