Jesus leer ons dat God regtig naby sy kinders is.
So naby dat Hy sorg vir vandag se brood!
Matteus 6:25: “Moet julle nie bekommer oor
julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie,
of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie.
Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as
klere nie.”
God is by ons in die detail betrokke van elke dag
wat ons moet leef. Hy ken vandag se behoeftes,
en vandag se nood, en vandag se vreugdes by ons.
Hy weet meer as wat ons ooit kan bedink of begryp
van ons lewe. Hy weet alles!
Hy is ons hemelse Vader en sorg in daardie
hoedanigheid vir ons. God onderneem oor en oor
in die Bybel dat Hy ons nooit sal verlaat of in die
steek sal laat nie. Hy is onder alle omstandighede
getrou. Hy lei en versorg ons daagliks in die rigting
van sy koninkryk.
Omdat dit deel van God se plan is om ons daagliks
te versorg, “breek dit sy hart” as ons soos
ongelowiges van die oggend tot die aand loop en kla,
en ons bekommer. Dit is ‘n mosie van wantroue in
die Here se versorging. Dit is om met ons lewe te sê
ons leef buite God se reikwydte!
Ons is immers God se geliefdes. Die appel van sy oog.
So seker as wat die son vanoggend opgekom het,
so seker sal sy trou en goedheid vir vandag deurbreek.
Daarom moet ons Hom vertrou vir brood, en klere,
en die res! Hy versier blomme van die veld met groter
skoonheid as wat konings in paleise geniet.
Hy versier ook ons lewe met hemelse versorging.
Leef dankbaar vir elke stukkie brood.
En elke stukkie genade in jou lewe!
Ernest