Satan is ‘n realiteit. As aanvoerder van die bose magte
is hy daarop uit om God se skeppingswerk te verwoes.
Satan kan niks skep nie. Satan stel verseker ook nie in
jou belang nie. Al wat hy wil doen is om jou te vernietig,
sodat God se eer daardeur skade ly. Hy is die vernietiger.
Die aanklaer. Hy wil hê jy moet luister na die twyfel wat
hy saai, eerder as om God op sy woord te neem.

Tog weet ons hy het hoegenaamd geen plek in die
teenwoordigheid van God nie. Op elke plek waar Jesus
die duiwel op aarde raakgeloop het, het Hy hom uit die
pad geloop! Jesus en die Satan is nie gelykes wat met
mekaar meeding om ons siele nie. Dit is nie ‘n vyftig-vyftig
geveg waar die uitslag voortdurend in die weegskaal is nie.
Jesus is die absolute Oorwinnaar! Punt!

Nie eens die sterk man, soos Jesus self na Satan in Lukas 11
verwys, kan teen Hom staande bly nie. In vers 22 sê Jesus:
“As daar een kom wat sterker as hy is en hom oorwin,
neem hy al die wapens af waarop hy hom verlaat het,
en hy verdeel sy besittings as buit.” Hy neem al sy wapens af!
Hy vertrap hom onder sy voete en neem al sy krygsgevangenes
af, vir Homself! Jesus het gekom om terug te vat wat aan God
behoort. Satan is verslaan! Die kruis en opstanding is die
onteenseglike bewys! Die ereplek aan die regterhand van God
is waar die heerser oor die heelal sit. Dit is Hy Wie ons aanbid!

Nou al sing ons in ons lewens hemelse lof! Nou reeds skuil ons
by die Heerser oor die heelal. Hy is die Here, die ewige Rots.
By Hom is ons veilig en behoue teen al die aanslae van die Bose.
Hy bewaar ons van die Bose. Daarom bid Jesus in Johannes 17:15
dat God ons nie uit hierdie wêreld moet wegvat nie, maar van
die Bose moet bewaar. Dit is sy gebed en ook sy werk in ons.
Ons gaan voort in hierdie wêreld om te doen wat Jesus doen!
Tot en met die laaste dag hou Hy deur die Gees oor ons wag.
Ons lewe vir die Here! Dit is ons vaste hoop. Dit is ons roeping.
Dit is die sin van die lewe. Dit is die ware lewe!

Ernest