Die Here Jesus sê in Johannes 14:12 hierdie
besondere woorde wat ons nogal baie laat dink:
“Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen;
en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat ek na
die Vader toe gaan.” Ons sal groter dinge as Jesus doen.
Dit belowe Hy self.
Die eerste wat ons moet onthou is dat hierdie dinge
gefokus is op God se heerlikheid.
Die tweede wat ons moet weet is dat ons dit in elk geval
in God se krag doen.
Die derde is dat hierdie dinge kwantitatief bedoel word,
en nie kwalitatief nie.
Verseker is hierdie groter dinge gefokus op God se
heerlikheid. Jesus self het aarde toe gekom om sy Vader
se heerlikheid onder ons te openbaar. So lees ons in
Johannes 1:14. Jesus, die lewende Woord, wys sy Vader
se heerlikheid oral waar Hy gaan. Toe Jesus sy eerste
wonderteken in Kanaän in Galilea gedoen het waar hy
water in wyn verander het, het Hy ook sy eie heerlikheid
geopenbaar. Alles wat die Here Jesus op aarde gedoen
het gaan oor die heerlikheid van Homself as Here,
en oor sy Vader se heerlikheid en eer. Daarom is die groter
dinge wat Jesus in Johannes 14:12 noem gerig op ons Vader!
Ons doen nooit groot dinge om te wys dat ons geloofshelde
is nie! Daar bestaan nie iets soos geloofshelde nie.
Selfs Paulus is besonder nederig oor sy geloof al is dit hoe sterk!
Wanneer ons dink dit is in eie krag dat ons groot dinge sal doen,
dan steel ons God se eer! Dit is wat Simon die towenaar ook
wou doen toe hy in Handelinge 8 die krag van die Gees by Petrus
wou koop! Ons doen niks wat ons vir God doen uit eie krag nie.
Wat ons vir God gaan doen, doen ons verseker nie uit onsself nie,
en ook nie vir onsself nie! Ons kan dit net in die krag van die
Heilige Gees vir God doen!
Die groot dinge wat ons gaan doen is ook kwantitatief groter,
en nie kwalitatief nie. Ons doen nie kwalitatief “beter” as Jesus nie!
God doen alles! God wil hê daar moet ook in ons dag wonderwerke
gebeur. Hy word verheerlik wanneer siekes gesond word, bose
magte se invloed gebreek word, mense uit gevaarlike situasies
gered word, verhoudinge herstel word, en die menslik onmoontlike
voor ons oë moontlik word! Jesus sê juis ook in die teks dat Hy na
die Vader toe gaan. Nou gaan Hy dit deur ons doen!
God word geëer wanneer sy kinders Hom vertrou vir sý ingrype
deur hulle gebede en dade! God is die God wat die wonders deur
ons doen. Dit is nou kwantitatief baie meer deur die miljoene
Christene op aarde as toe dit sigbaar was deur Jesus se lewe alleen.
Ons is inderdaad nou Jesus se getuies en verteenwoordigers wat
saam met Hom oorwin het en sy koninkryk daagliks laat kom in
hierdie wêreld.
Gee aan God al die eer wanneer jy sy genade sien deurbreek in jou
eie lewe, en deur jou lewe en dade in die lewe van ander mense.
Dit is Hy wat dit alles deur jou doen. Hy doen dit ook deur miljoene
ander gelowiges wat opreg vir Hom lewe.
Loof Hom wat wonders doen! Laat dit alles in sy Naam gebeur!
Gee aan Hom alleen die eer!
Ernest