Satan is die beslissende nekslag toegedien aan
die kruis en met die opstanding van Jesus uit
die dood. Daar het God alle bose magte in die
openbaar ontwapen, soos Paulus met vreugde
uitroep in Kolossense 2:15.

1 Petrus 5:8 gee egter aan ons ‘n baie belangrike
waarskuwing: “Wees nugter, wees wakker!
Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n
brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.”
Die oorwinning is inderdaad oor die bose magte behaal.
Niks kan God se kinders weer uit sy hand ruk nie.
Jesus waarborg dit ook in Johannes 10. Hy het heeltemal
te duur aan die kruis vir ons betaal om ons ooit weer
prys te gee.

Ook kan Satan ons nie meer in die hemel aankla nie.
Paulus sê vir ons in Romeine 8:34 dat Christus aan die
regterhand van God sit om juis vir ons in te tree en te
keer dat enige iemand ons kan aankla. Ons het vrye
toegang tot die Vader, in Jesus Christus, deur die Gees.
Niks of niemand in die ganse skepping kan ons skei van
die liefde van God wat Hy vir ons het in Christus nie!
Ons is in die greep van genade van God.

Maar Petrus waarsku ons om nugter en wakker te wees!
Satan is steeds gevaarlik. Hy is in sy laaste stuiptrekkings
op aarde nog steeds gevaarlik. Vanuit Petrus en ons
perspektief, bly hy soos ‘n brullende leeu iemand soek
om te verslind. Ons moet die Bose nooit onderskat nie.
Hy bly daagliks daarop uit om ons te vernietig.
Hy wil ons laat twyfel, struikel, en ondergaan.

Wat is die heel belangrikste vir hierdie geestelike stryd
op aarde?
Soek skuiling by die Een wat sterker is! Jesus Christus!
Moenie die Satan in eie krag aandurf nie. Elke keer as jy
dit sien of ervaar dat die Bose in die omtrek is, moet jy in
die beskerming van Christus invlug.
Bly in Hom, en Hy in jou! Net by Hom is ons veilig!

Ernest