Die digter Denise Leverton het gesê elke digter
moet gertou bly aan sy eie stem. Jy kan nie elkeen
wat kritiek lewer tevrede stel nie. Jy kan ook nie
aan almal se smaak voldoen nie. Jy moet jou eie
stem hê.

Dit geld nie net vir digters nie. Ons elkeen het ‘n stem
van ons eie. Ons almal, ryk en arm, manlik en vroulik,
oud of jonk, is uniek geskep deur God. Ons moet ook
ons uniekheid uitleef in ons verhouding met God en
met ander mense. Ons kan nie heeltyd ander se opinies
uitleef nie. Of hulle drome en planne nie. Dan word ons
‘n tweedehandse fotokopie van hulle. Solank as wat ons
aan ander mense se verwagtinge probeer voldoen in ons
verhouding met die Here, of met ander mense, is ons nie
ons beste self nie. Om heeltyd ander mense gelukkig te
hou en presies te probeer doen wat hulle wil hê,
en wanneer hulle dit wil hê, beteken ons is nooit onsself nie.

Waar vind jy jouself?
Waar jy die Here dien soos Hý dit wil hê, en mense dien soos
Hý dit wil hê. Nie soos ander mense of jý dit wil hê nie.
Spreuke 14:26 sê: “Wie die Here dien, het daarin ‘n veilige
toevlug...” Dit is waar jy jou ware self kan vind. In die Here,
en in die dien van die Here soos Hy dit uniek bedoel vir jou.
Daar is jy eg en vind jy jou eie stem. God kom dan ook op ‘n
unieke manier deur jou aan die woord.
Dan is jy nie ‘n nabootser van iemand nie, en ook nie die lakei
van iemand wat jou wil dwing om soos hy te wees of te doen nie.

God wil deur ons aan die woord kom en God wil deur ons aan
mense sy liefde en genade en barmhartigheid bewys.
Hy wil nie hê ons moet ophou om onsself te wees nie.
Hy wil juis ons uniekheid gebruik met die unieke identiteit wat
Hý aan ons gee.
Gaan wees vandag in jou hele lewe wie en wat die Here wil hê
jy moet wees. Gaan dien Hom en mense soos Hý dit wil hê,
met jou eie stem en lewe.

Dit sal ook die wonderlikste voorbeeld vir jou kind wees om
na te leef. Spreuke 14:26 se hele vers klink juis so:
“Wie die Here dien het daarin ‘n veilige toevlug,
en ook sy kinders vind daar skuiling.”

Ernest