Matteus 10:42: “Wie aan een van hierdie geringstes
net ‘n beker koue water gee omdat hy my dissipel is,
sál sy belonging kry. Dit verseker Ek julle.”
Iemand wat letterlik van die hand na die mond leef
getuig van ‘n skoolkind wat vir haar ‘n pakkie kos
kom afgee het. Sy het letterlik nie meer brood gehad
om te eet nie. Sy het gebid en ‘n bietjie later het die
skoolkind aan haar deur geklop en ‘n kospakkie afgegee.

Die Here wil deur ons werk om daaglikse brood by
honger mense af te lewer. Brood vir ‘n honger maag,
en brood van die lewe vir ‘n honger siel. God hou nie
daarvan dat sy kinders swaarkry nie. Maar dikwels kry
mense swaar weens die ongehoorsaamheid van ander
mense wat nie diensbaar is vir die Here nie.

Ons kan nie as kinders van die Here bekostig om rond
te sit en nie aan te meld vir diens nie. Die Here se
diensknegte sit nie terug en wag vir geleenthede om
hul pad te kruis nie. Hulle gaan doelbewus uit en soek
geleenthede om die Here te dien. Die regte situasies
en geleenthede vind hulle altyd! Onverwags, ongevraagd,
en onbepland daag dien-situasies by kinders van die Here op.
Jy kies hulle nie, hulle kies jou. Dit is dan wanneer jy jou rug
draai en wegstap. Of soos Phil Collins sing, jy oor die straat
loop en fluit en maak of jy die pleitende vrou met blase op
haar voete nie sien of hoor nie.

Die vraag is eenvoudig of jy aanmeld in Jesus se Naam of nie?
Of jy in jou gemaksone leef, of ander help om te oorleef?
Of jy elke dag bereid is om die minste te wees?
Of om agter in die ry te val? Is jy bereid om ander se nood
op jou skouers te tel? Om ander mense met die liefde van
die Here te dien gebeur meer as dikwels nie binne jou eie
geriefsone nie. Egte dien van mense, wat jou die tweede
myl laat saamloop, met mense wat soms nie eers dankbaar
is nie, kos ‘n prys. Maar jy doen dit vir die Here. Nie om
‘n dankie te kry nie. Dit vra daaglikse selfverloëning.
Maar die vreugde in die Here wat deur ware diens
meegebring word is onberekenbaar.

Ernest