“Wie hom oor ‘n arm mens ontferm,
gee ‘n lening aan die Here, en Hy sal hom
ten volle vergoed.” Dit is regtig ‘n interessante
teks, hierdie Spreuke 19:17. Om te dink jy gee
‘n lening aan die Here...
God is eenvoudig op hoeveel plekke waar ons
Hom nie soek of verwag nie. God is te vind in die
kleintjies, geringes, oues, vreemdelinge en kinders.
Wil jy God sien? Kyk net rondom jou. Hy is orals te sien.
Hy is ook in die gestalte van mense wat nie noodwendig
ons vriende sal uitmaak nie. Maar om aan mense goed
te doen is om aan die Here goed te doen. Dit maak ‘n
hemelse kettingreaksie los. God is so naby aan ons as
daardie mens wat jy help met ‘n stukkie kos, of ‘n bietjie
lewensvreugde. God is ook net oorkant die straat by
daardie mense wat soveel minder as ons het.
Dit is wat Spreuke 19:17 bedoel wanneer ons lees om
ons oor ‘n arme te ontferm is gelykstaande om ‘n lening
aan die Here te maak. Dit is ‘n mooi idioom wat sê dat
die Here van sy kant af onderneem om ons hiervoor te
vergoed. God neem kennis van wat sy kinders in alle
opregtheid vir ander mense doen. Elke daad, klein of groot,
wat ons in die Here se Naam met opregtheid doen,
is om nog ‘n “lening aan die hemel te maak.”
Dien die Here by alle mense en wees saam met hulle
op die uitkyk vir hemelse seëninge!
Ernest