Twee sportspanne bid altwee om te wen.
Twee weermagte wat oorlog maak beskerm beide
hulle geliefdes en bid vir oorwinning oor die ander.
Ons was self al in soortgelyke situasies. Die een boer
bid vir reën, en die ander boer, wat iets anders geplant
het, bid dat dit nie sal reën nie.
Ten minste moet sulke ingewikkelde situasies ons dwing
om minder voorskriftelik aan die Here te bid! En verseker
ook minder resultaat gerig. Ons moet ons aan God se wil
oorlaat in ons gebede en doelbewus soek na sy wil in die
omstandighede. Hy weet die beste en het al die feite tot
sy beskikking. Ons dien meestal in ons gebede ons eie
behoeftes en belange. Ons moet Hom vertrou om te doen
wat net Hy kan doen.
Dit is beter om in pas met die Here te leef en daagliks
op die hemelse frekwensie ingeskakel te wees as om net
rondom onsself te bid. Ons moet die Here vertrou dat,
wanneer ons vir Hom leef, Hy ons die beste na sy goeddunke
sal ontplooi. Gehoorsaamheid en getrouheid aan Hom is
waarna ons moet streef, en nie resultate nie. Ons meet te
maklik ons gebedsverhoring aan die resultate soos ons dit
graag wil hê.
Dit bring groot vryheid in jou gebedslewe as jy ophou om
vir God “instruksies” te gee. My werk en roeping is om God
aan te roep om só te werk in diegene se lewe vir wie ek bid,
en die situasies waarvoor ek bid, dat sy wil daar sal geskied.
Ek moet daarna streef om my te vereenselwig met God se
wil in my gebede. En ek deel sy passie van liefde vir mense
en hulle nood. En ook sy seëninge wat Hy vir mense bedoel.
Plaas mense by die naam voor God se genadetroon en pleit
om die kragtige inbreek van sy koninkryk in hulle omstandighede.
Die detail van hoe dit moet gebeur sal die Vader voor sorg.
Wees voluit beskikbaar vir hoe Hy jou lei deur die Gees,
hoe Hy jou daarin wil gebruik.
Herinner God wel aan sy beloftes dat Hy die God van redding,
genesing, en genade is en dat dit in elke situasie sigbaar en
voelbaar sal wees.
Ons kan nie gedurig met God arm druk oor hoe ons dink dit
moet wees nie. Vertrou God dat sy genade sal deurbreek in
elkeen wat jy voor sy genadetroon neersit in gebed.
Vertrou Hom ook so vir elke saak of situasie waarvoor jy bid.
Ernest