‘n Mens sou dink dat God aan die einde van jou lewe
sou vra of jy aan ‘n kerk behoort het, gereeld kerk toe
gegaan het, gereeld gebid en jou Bybel gelees het.
Maar Jesus vertel in Matteus 25:31-46 ‘n ander verhaal.
Die vrae wat God aan ons stel sal wees: het jy vir die
geringste mense onder julle kos gegee toe hulle honger was?
Het jy mense wat dors was water gegee? Het jy daklose
mense gehuisves? Het jy klere gegee vir mense wat nie klere
gehad het nie? Het jy vir siek mense gesorg? Het jy mense wat
in die moeilikheid was besoek?
In vers 35 sê Jesus: “...want Ek was honger, en julle het My
iets gegee om te eet; Ek was dors en julle het My iets gegee
om te drink; Ek was ‘n vreemdeling en julle het My gehuisves;
Ek was sonder klere en julle het My klere gegee; siek, en julle
het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.”
In vers 45 sê Jesus verder: “Dit verseker Ek julle:
Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen
het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.”
Om dié dinge te doen, is om geregtigheid te doen, sê Jesus.
Amos 8 vertel dat dit juis die dinge was wat in Israel se
geskiedenis verkeerd geloop het. Wanneer ons goed na Jesus
luister, sal ons weet wat dit vir ons beteken om geregtigheid
te doen. Honger mense, dors mense, daklose mense, mense
wat nie klere het nie, siek mense, mense wat in die moeilikheid is,
....hulle almal moet deur ons kontak met hulle God as teenwoordig
belewe in hulle omstandighede.
Ons kan baie redeneer oor veiligheid en sekuriteit...
soos om ‘n vreemdeling te huisves in ons dag. Maar ons weet ook
by hoeveel geleenthede ons verbyleef en dit doelbewus ignoreer
omdat dit ons gewoon uit ons gemaksone van self-gerigtheid neem.
Ons staan elkeen voor die Here met ons verskonings,
redes en verklarings hoekom ons doen of nie doen wat Hy vra nie...
Ernest