God werk dikwels half onopsigtelik in ons leefwêreld.
Dink maar net aan hoe Hy Kis se donkies laat wegraak het,
en die regte slaaf saam met Saul laat gaan het, hoe hulle
op presies die regte tyd by die put met meisies aangekom
het, hoe die meisies geweet het van die man na wie hulle
op soek is...Samuel.

Dink ook aan hoe Jesus ‘n mens kom word het in die
gestalte van ‘n gewone skrynwerker in ‘n klein dorpie.
God doen dinge dikwels onopsigtelik en met ‘n ompad.
Dit laat mense dikwels vra: Maar waar is God dan?
Ons kan Hom nie sien nie!

So het Jesus ook op ‘n eienaardige manier gepraat oor
die eindtyd en vrae wat gestel gaan word. Ek was honger...
Ek was dors...Ek was ‘n vreemdeling...Ek was sonder klere...”
Jesus het ook geweet dat mense daarop sal reageer met:
Maar Here, óns het U nooit gesien nie!

Wat Jesus hier aan die sê is, is dít: onthou jy die arm ou man
wat by jou tuinhekkie vir kos gevra het?
Onthou jy die vrou wat gehuil het oor haar kind siek is en sy
nie geld het vir ‘n dokter nie?
Onthou jy die dag toe die man op die parkeerterrein vir jou
gesê het dat sy gesin klere nodig het?
Dit was Ek...

God kom staan in die geringste mens voor ons.
God kom onopsigtelik. God kom in ‘n onverwagte velkleur.
God kom klop aan jou deur. Druk jou klokkie by die hek.
En Hy sien waar jou geregtigheid staan.
Of mense vir Hóm in jou sien, en ervaar...

Ernest