God se hart is by almal, ook by die geringstes
en verdruktes. Hulle op wie ons maklik neersien.
God se hart is daar. Ons ouer mense het baie graag
Psalm 146 in die ou Psalm- of Gesangeboek gesing.
Maar ons het veral die eerste en laaste verse gesing.
Wanneer jy Psalm 146 in die Psalmboek lees,
sal jy sien wat staan tussen die eerste en laaste verse!
Daardie verse is ‘n beryming van verse 7-9 in die Bybel:
“Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan
die hongeres. Die Here bevry die gevangenes, die Here
laat blindes sien, Hy ondersteun die wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief. Hy beskerm
vreemdelinge en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad vir die goddeloses.”
Verse 7-9 is die kern van die Psalm!
Waarom moet ons God loof?
Nie omdat óns sulke goeie en wonderlike mense is nie,
maar omdat God se hart by die geringstes is!
God beskerm die geringstes. Wanneer mense hierdie
Psalm sing, en dan self uitbuiters is, selfgerig en selfsugtig is,
en self nie vir armes en behoeftiges en eensames omgee nie,
sing hulle ‘n oordeel oor hulleself.
Want God se hart is by hierdie mense en Hy sorg en gee om
vir hierdie mense.
Hy wil dit juis deur die bevoorregtes doen.
Vers 9 sê Hy sal die pad van die goddeloses versper.
Daarom moet ons mooi dink wanneer ons lofliedere vir
die Here sing. Of ons lewe daarmee in harmonie is.
Ons moet die hele Psalm 146 sing en sorg dat ons God se
verteenwoordigers is waar sy hart is!
Ons moet liefhê met sy liefde en omgee met sy omgee hart.
Eers dan kan ons God werklik opreg loof!
Ernest