Wanneer ‘n mens tussen die harpspelers en fluitblasers
en koor van die lewe wil wees wat God se lof en eer besing,
en as jy die natuur se loflied wil hoor en sien, moet jy by God
gaan staan in hierdie lewe. Dit het Psalm 146 duidelik gemaak.

Psalm 1 beklemtoon dit ook. Wanneer jy ‘n vol en dankbare
lewe wil leef, soos ‘n boom wat reg langs ‘n waterstroom staan,
moet jy van jou kant af een baie belangrike ding doen:
jy moet reg kies! Dit is nie so ‘n moeilike besluit nie. Psalm 1 sê
daar is in elk geval net een alternatief:
jy kan óf saam met God leef, of sonder God probeer regkom.
Wanneer jy sonder God probeer regkom, word jou lewe nie deel
van die simfonie in hierdie wêreld tot eer van God nie.
Dan is jy deel van die wêreld se “kaf” wat wegwaai.
Eiewyse mense glo dit nie sommer maklik nie.
Bybel-wyse mense glo dit en kies reg.

Dit is egter nie altyd maklik om God te loof nie.
Wees maar eerlik daaroor. Soms draai die lewe teen jou.
Dit is dan asof dit dubbel swaar is vir ‘n kind van die Here.
Dan kom die twyfel ook nog by jou op: hoekom laat God dit toe?
Sorg Hy regtig?

In Psalm 3 sê die psalmskrywer in vers 3 dat die mense sommer
openlik vir hom gesê het dat God hom nie sal help nie!
Om dan nogtans te bly glo is nie maklik nie. Dan kos dit vertroue
en vasbyt in die geloof om te glo dat God regtig vir jou omgee.
Die Bybel is egter vol van mense wat deur diep waters gaan en
getuig dat God jou nie regtig in die steek laat nie.
Selfs al voel dit vir jou so. Vers 6 van Psalm 3 sê dat die skrywer
nie eers saans op sy bed gelê en rondrol oor sy probleem nie.
Hy het inderdaad geleer dat jy reg kan kies en dan kan vasbyt
in jou geloof ten spyte van groot terugslae.
Psalm 3 praat ons moed in en sê dat dit alles die moeite werd is
in die lewe. Kies reg. Kies God. En byt vas. Hy is getrou!

Ernest