Soms gaan dit werklik swaar in ons lewe.
Die digter van Psalm 4 het dit intens ervaar.
Vers 3 sê mense skinder oor hom.
Vers 7 sê dit laat hom twyfel.
Tog sê vers 9 dat hy ten spyte daarvan op sy
bed kan gaan lê en aan die slaap raak.
Dit is nie ontvlugting van die probleem nie.
Die geheim van hierdie man is dat hy nie ‘n
moordkuil van sy hart gemaak het nie.
Hy gaan met sy probleem na God toe.
Here, sê hy in vers 2, antwoord my asseblief
wanneer ek roep. Hy gaan vertel sy verhaal
en seer vir God.
Ons kan nie bly voorgee dat ons gelukkig is en
dat alles goed gaan as dit nie so is nie.
Die wonderlike is dat God dit reeds weet en ons
dan juis die vrymoedigheid het om met Hom
daaroor te praat. Daarom kan ons juis eerlik wees
met God. Hy weet reeds.
Dit is in die opsig bevrydend om na Hom toe te gaan.
Ons kan doodgewoon eerlik met Hom worstel oor
wat hy reeds weet!
Ons weet God gee om en wil ons help.
Sê vir God presies hoe jy voel, selfs al is dit dat jy voel
Hy laat jou erg in die steek!
Die psalmskrywer sê in vers 5 dat as jy dit gedoen het,
kan jy maar gaan lê en rus. God sal jou help en jy kan,
volgens vers 8, as ‘n getrooste mens lewe.
Jy kan kalm word. God sal doen wat Hy weet nodig is!
Ernest