Mense lê Openbaring dikwels op so ‘n manier
uit dat dit ‘n mens bang maak vir die boek.
Dit is allermins die doel van Openbaring.
Mense sê die boek praat oor die bose kredietkaarte
van ons tyd, oor vigs, en hedendaagse natuurrampe,
en het baie teorieë oor die getal 666, die getal van die
Antichris waaroor Openbaring praat. Hulle sê ons leef
in ‘n tyd waarin Satan “losgelaat” is.
As hulle die boek klaar uitgelê het is almal bang en
voel uitgelewer. Die mense wat Openbaring so uitlê
maak egter ‘n fout.

Die boek sê onteenseglik dat dit gaan oor dinge wat
“binnekort” moet gebeur, en dat Jesus sy engel gestuur
het om dit aan Johannes bekend te maak, vers1.
Dit wil sê die boek handel oor dinge wat binnekort,
dus in die lewe van die destydse Christene, sou gebeur.
Daarom moet ons die boek in die eerste plek teen die
agtergrond van Johannes se tyd verstaan. Ons moet die
voorspellings daarin in die eerste plek beskou as
voorspellings wat nog in daardie tyd vervul sou word.

Openbaring was bedoel as ‘n troos vir die konkrete
situasie van die Christene van destyds, nie as ‘n skrikmaker
vir ons tye nie. Daarom moet ons die boek as ‘n troosboodskap
en bemoediging verstaan. Daar staan:
“Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie...
ter harte neem.

Openbaring wil aan kinders van God leer hoe om na dinge om
hulle te kyk. As jy nie reg kyk nie, kan jy bang en moedeloos
en selfs sinies raak. Maar as jy die wêreld uit die regte oogpunt
bekyk, sal jy nie net oorleef nie, maar met sin en betekenis
voluit kan leef.

Openbaring sê jy moet langs Christus gaan staan en van sy kant
af na die wêreld kyk. Hy het uit die dood uit opgestaan en Hy is
heerser in hierdie wêreld, sê vers 5. Meer nog:
alle mag en krag behoort tot in ewigheid aan Hom!- Vers 6.
Hoe dit ookal rondom jou lyk, daar is hoop, want Christus se krag
triomfeer uiteindelik! Hy het gewys Hy het ons lief en gee vir ons om.
Vers 5 sê Hy het in ons belang vir ons gesterwe.
Daarom begin die boek in vers 4 met die wonderlike woorde:
“Vrede vir julle”.
Wow!!

Ernest