Openbaring sê ‘n mens moet van die einde se
kant af na die geskiedenis kyk. Die geskiedenis
loop ten einde wanneer Christus weer kom!
Hy kom hierdie keer as die Een wat die bose
oorwin het! En dit is séker, sê vers 7!
God het die wêreld uit niks geskep deur die eerste
woord in die geskiedenis te spreek, sê Genesis 1
en Johannes 1. Daarom is Hy die Alfa van die “alfabed”
van die geskiedenis. Alfa is die eerste letter van die
Griekse alfabet waarin Openbaring geskryf is.
God sal ook op sy tyd die wêreldgeskiedenis tot ‘n einde
bring en die laaste woord oor die geskiedenis sê.
Daarom is Hy ook die Omega van die Griekse alfabet,
die laaste letter. God is dus die A-Z van die geskiedenis.
Die begin en die einde!
Die hele wêreldgeskiedenis is in God se hand.
Daarom is ons ook in God se hand! Al lyk dit vir die
wêreld of God nie in beheer is nie, is dit gladnie die
geval nie. Ons moet nie vanuit die wêreld afleidings
maak oor God se einde met die wêreld nie, maar uit
die oogpunt van God na die geskiedenis kyk. Dit is asof
die geskiedenis van die wêreld in ‘n diep vallei afspeel
en God nooi sy kinders om in Openbaring langs Hom
op die berg te kom staan en te deel in sy goddelike
perspektief. Geen wonder dit is steeds ‘n troosboek vir
Christene wat begin met die woorde “vrede vir julle” nie!
Dit beteken nie die geskiedenis is rose en maanskyn nie.
Om ons lyk baie dinge boos. Johannes sê ook vir die eerste
lesers van die boek “Ek...is julle medegelowige en...
ek het saam met julle deel aan die verdrukking”.
In die tyd van die Romeinse keiser Domitianus is Christene
wreed vervolg en doodgemaak. Daarom is Johannes juis ‘n
banneling op Patmos, vers 9. Openbaring wil ons help om
na ons moeilikste omstandighede te kyk en te bly hoop!
Dit is waarom Johannes vir hulle sê: Ek neem nie net saam
met julle deel aan die verdrukking nie. Ek neem ook saam
met julle deel aan die koninkryk en aan die volharding.
Dit is asof Johannes vir daardie vervolgde mense sê:
ons is wel verdruktes, maar moenie vergeet dat ons
koninkrykskinders is nie! Solank ons dit ook kan onthou in
ons eie omstandighede, wil Openbaring vir ons sê,
sal ons kan uithou en aanhou, en volhard in die Here!
Dit is troos van God! Daarin lê juis ons oorwinningkrag!
Ernest