Waarom skryf Johannes Openbaring so vreemd?
Waarom praat hy van “Seun van die mens” in plaas
van Christus? Waarom praat hy van drake, monsters
en “getuies” wat vermoor word? In Openbaring 1:1-10
beskryf hy sy visioen van Christus in terme van sneeu,
vuur, koper, water...hoekom? Hoekom praat hy nie reguit nie?

Die antwoord lê in die brief van goewerneur Plinius aan keiser
Trajanus. Hy sê: “Met mense wat voor my aangekla is dat hulle
Christene is, maak ek so: Ek vra hulle self of hulle Christene is.
As hulle dit erken dreig ek hulle met straf en dan vra ek hulle
‘n tweede en ‘n derde keer. Hou hulle by hulle storie, gee ek
opdrag dat hulle tereggestel word.”

Om vervolging vry te spring het Christene so gepraat en
Johannes so geskryf dat die owerheid nie presies geweet het
wat dit beteken nie. Hulle beeldetaal het “verborge” betekenis
gehad, volgens vers 20. So het hulle oorleef en getuig en volhard,
eerder as om Christus te verloën.

Die een ding wat seker was, was dat die Christene in vrees
gelewe het! Wanneer Johannes dus in sy visioen vir Christus sien,
is dit uiters belangrik dat Christus vir hom in vers 17 sê:
“Moenie bang wees nie, dit is Ek!”
Dit is die refrein van die Openbaring boek: Moenie bang wees nie!
Christus sê: “Ek was dood en, kyk, Ek lewe...Ek het die sleutels van
die dood en die doderyk.” – vers 18.

Al lyk dit of die keiser, sy goewerneur of Satan die mag het,
is dit net Christus wat die mag het oor die dood en die doderyk.
Hy sal die laaste woord spreek. Hy is die Alfa en die Omega!
Die Eerste en die Laaste! Daarom: Moenie bang wees nie!

Dit is ook vandag vir ons die grootste troos om van die Here te hoor:
Moenie bang wees nie! Dit is ons enigste troos in lewe en in sterwe:
Dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan Christus!
Leef elke dag uit hierdie werklikheid wat Christus vir jou bewerk
het aan die kruis!

Ernest