Die mense van Sardis het die spoor van Christenskap
ver byster geraak. Hulle gaan wel na die samekomste
toe en praat oor “Christelikheid”, soos ons ook dikwels
doen, maar Christus sê vir hulle in Openbaring 3:1:
“Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam
het dat julle lewe, en tog is julle dood.”
Christus sê hulle moet ‘n bietjie dink aan die tyd toe hulle
tot bekering gekom het, hoe ywerig hulle was en hoe hulle
die wêreld wou verander in die Here se Naam.
Dit is waarheen hulle moet terugkeer as hulle in die moeilike
tye van keisers Nero, Trajanus en Domitianus wil leef.
Ons kan nie Christen-Christen speel nie. Wanneer ons net in
naam Christene is, moet ons nie verbaas wees as die Here ons
op ‘n dag op ‘n onaangename manier verras nie, soos in vers 3,
waar die Here sê Hy kom onverwags op ons af!
Christus sê vir Sardis hulle moet die bietjie geloof wat hulle
oor het versterk! Word weer geesdriftig oor die evangelie!
Heilige Gees driftig!
Dit is om hierdie rede dat Christus vir Filadelfia sê Hy sal
hulle vashou! Hierdie gemeente ontvang ‘n mooi getuigskrif
van die Here. Hulle is nie slim of sterk nie, volgens vers 8,
maar hulle volhard vir die Here! Hulle speel nie “Christen” nie.
Hulle is voluit Christene met al die gevolge wat daarmee mag
saamkom in die moeilike tyd van vervolging waar in hulle leef.
Daarom, sê vers 10, kan hulle selfs erge lyding weerstaan.
Van al die briewe aan die gemeentes in Klein-Asië som hierdie
Een aan Filadelfia seker Openbaring se boodskap die duidelikste
op: “Omdat julle aan die boodskap...vasgehou het, sal Ek julle
ook vashou in die tyd van beproewing...” – vers 10.
Die Een wat dit sê, het die laaste sê!
Die mense van Filadelfia het die Here se woorde getoets en as
waar bevind.
Het ons, wat so maklik twyfel, die Here se woorde dat Hy ons
sal vashou regtig getoets en as onwaar gevind, of het ons sy
woord onwaar bevind, en toe nooit regtig getoets nie?
Waarom twyfel ons nog so maklik?!
Ernest