So goed as wat die getuigskrif van die Here
oor Filadelfia was, so onaangenaam is dit
oor Laodisea. Hulle verwerp Christus nie,
maar hulle dien Hom ook nie juis nie,
sê Openbaring 3:15. Manteldraaier-Christene.

Tussen Christene lyk hulle soos Christene,
maar tussen nie-Christene lyk hulle ook soos
nie-Christene. En dit alles as gevolg van hulle
rykdom! Rykdom laat jou maklik glo dat jy op
jou eie kan regkom. Dit krap maklik jou
waarde-begrip deurmekaar.
Dit is lekker en gerieflik, maar dit kan jou
perspektief op die lewe skeef trek.
Dit het met Laodisea gebeur.

Tog skryf Christus hierdie mense nie af nie!
Kyk, sê Hy, julle het My nou wel uitgesluit uit
julle rykmanslewens, maar Ek staan voor die
deur en Ek klop! As julle oopmaak sal Ek inkom
en kan ons saam eet asof julle nooit die deur in
My gesig toegeklap het nie.
Ons kan weer vriende wees, vers 20.

Christus kan louheid vergewe. Hy kan vroeëre
ontrouheid vergewe.
Hy wil altyd weer nuut met ons begin!
Die Here wil weer en weer met jou nuut begin!
Gee jouself aan Hom met jou hele lewe as
lewende en heilige offer – Romeine 12:1.

Ernest