Deur die gesprek in Openbaring met die
verskillende gemeentes vergeet mens amper
van die eintlike boodskap in Openbaring,
waaroor dit eintlik gaan. In die briewe word daar
wel na verdrukking en lyding verwys, maar mens
kan jou moeilik indink hoe dit werklik destyds gegaan
het. Veral ons, wat in ‘n land met godsdiensvryheid leef,
en nie daar was toe Christene gemartel is en moes sterf,
net omdat hulle in die Here Jesus glo nie! Die mense van
Openbaring se tyd sou seker by tye wonder of dit nie maar
die keiser is wat die geskiedenis in sy hand hou nie.

Máár, om die Christene te troos en te versterk, gee die Here
aan Johannes in Openbaring 4 ‘n kykie in die hemel.
En die een troon staan bo alle trone uit! Dit is die een waaroor
daar ‘n reënboog gespan is! Dit is die teken dat die tyd van
vernietiging verby is. Dit verwys na Genesis 9:12-16. Voor die
troon lê iets soos ‘n gladde see. Dit is verlig deur fakkels.
Heel anders as toe die watermassas in die duisternis gelê het,
volgens Genesis 1:1-2. Die wesens om die troon is koninklike
diere! ‘n Leeu, en bul, en arend. Almal sing die lied wat Jesaja 6
al gehoor het: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!”

Openbaring bring ons terug na die geskiedenis. In Openbaring 5
sien Johannes ‘n boekrol wat verseël is. Daarin staan die afloop
van die wêreldgeskiedenis klaar opgeteken! Niemand kan dit
oopmaak nie. Die keiser het gedink hy beheer die geskiedenis.
Maar nou sien Johannes dat die geskiedenis kant en klaar
opgeteken staan! En die Een wat die seëls oopmaak en die
geskiedenis beheer is ‘n Lam! Die Een wat geslag was.
Jesus Christus. Vers 9 sê Sy geskiedenis is die van herstel en
verlossing! Nie verwoesting en verdrukking nie. En ook nie net
vir die oomblik nie, maar tot in ewigheid! – vers 13.
Die baie belangrike is dit: Christus skryf nie die geskiedenis deur
uit die hoogte te regeer nie, maar deur aan die geskiedenis deel
te neem! Selfs al moet Hy daarvoor sterf! Hy is hier! By ons!

Daarom is dit Christus wat die seëls een vir een oopmaak.
Hy laat die geskiedenis stukkie vir stukkie “gebeur”!
Die eerste vier seëls gaan oor die oorloë en gevolge van oorloë
vir mense. Dit gaan oor die Romeinse tyd toe daar baie oorloë
gemaak is en die Christene wreed vervolg is. Die tyd waarin
Johannes leef. Baie Christene het moedeloos geword en hulle
geloof afgesweer. Maar Johannes sê vir hulle: Die swaar wat julle ly,
Openbaring 6 vers 6, is deel van die geskiedenis wat God beplan.
Julle vind dit moeilik om God se hand in die swaarkry te sien.
Maar ek het gesien dat alles uit die boekrol kom! Dit is verseker
God se geskiedenis! Moenie wanhoop of julle geloof prysgee nie!
God is deur hierdie dinge op pad met die aarde en al sy mense!
God is steeds in beheer! Wat ‘n troos is dit nie ook vir ons tyd nie!
Hou hieraan vas met al jou geloof, met jou hele lewe!

Ernest